Article first appeared in Die Republikein, April 14, 2005

 

taxi1010
ARCHIVES
[More]

Die Republikein

(in Afrikaans)

Namibia

 


 

 

As daardie gevatte terugkap net nie ontbreek het

• Estelle de Bruyn

AL ooit in een van daardie onmoontlike situasies gewees waar iemand iets sê wat die wind sodanig uit jou seile haal dat jy stert tussen die bene onttrek, net om later aan die perfekte terugkap te dink?

Die Franse het ’n woord daarvoor. Dis esprit d’escalier, wat saamgestel is uit esprit (humor) en escalier (trappe). Met ander woorde, die humoristiese opmerking waaraan jy dink as jy reeds met die trappe af, op pad uit is.

Die Suid-Afrikaanse joernalis Barry Ronge het dit soos volg beskryf: “Repartee is what you think of after you’ve become a departee”.

Hoe dikwels het ek al saans in my bedjie gelê en ’n gesprek van vroeër die dag in my gedagtes teruggespeel en dan skielik skiet die blinkste, skerpste, heerlikste sêding my binne. Jy wens jy kon die horlosie terugdraai en met jou slimmigheid die persoon wat jou so seer gesê het, terugkry, maar helaas, dis nie moontlik nie.

Wat ons esprit d’escalier slagoffers eintlik nodig het, is ’n kursus in verbale selfverdediging met Jackie Chan se soepelheid en taktiese spoed, met die dodelikheid van wapens van massavernietiging en die akkuraatheid van ‘n skerpskutter in ’n Tom Clancy spioenasiestorie. Eers as jy die kursus met lof geslaag het, mag jou ouers jou in die wrede wye wêreld met sy gevoellose samelewing en skerp tonge loslaat.

Op die webwerf www.taxi1010.com word ’n spesiale afdeling aan esprit d’escalier gewy. Een van die wonderlike hulpmiddels wat aanbeveel word om ’n mens uit so ’n onbenydenswaardige situasie te red, is om in enige gegewe ongemaklike situasie bloot te reageer met: “Net so.” As iemand na jou wys en smalend sê: “Daar het jy dit nou,” kap net terug met: “Net so.”

Wat sê ’n mens tog as iemand opmerk: “Mmmm, mooi baadjie. Ek sien almal dra dit deesdae,” of na jy jou voor die stoof afgesloof het en (na jou mening) ’n heerlike ete voorberei het en jou gas sê: “Wat het jy vandag met die vleis aangevang!” of “Jou hare lyk vandag soos ’n ontploffing in ‘n klapperhaarma-trasfabriek!”

Op daardie oomblik is ek gewoonlik met stomheid geslaan. Uit vir ’n nulletjie. Skoongeboul. En dis hier waar die neutrale, argelose en ontwapenende “net so” goed te pas sal kom.

Dis sulke tye wat ek dink aan die wonderlike repartee waarmee die skerp breine van die verlede so uit die vuis vorendag kon kom.

Van die slimste en pittigste, op die voete dink en terugkap waarvan ek al gelees het, het tussen die destydse Britse eerste minister, Winston Churchill en Lady Asquith plaasgevind. Hulle het baie beslis nie aan die esprit d’escalier-sindroom gelei nie. By ’n formele glansdinee het die Dame die eerste minister onthuts toegesnou: “Mr. Churchill, you are drunk.”

“Yes, I am drunk, but you are ugly. Tomorrow I will be sober and you will still be ugly,” was die premier se onmiddellike, vlymskerp antwoord.

Daar was ook die Britse skrywer Noël Coward wat na ’n besoek aan Amerika tot sy groot ergernis op die lughawe weer deur ’n koerantman gepla is. Die koerantman wou vir oulaas Ơn aanhaling van die bekende Coward hê en het gevra: “One last word for The Star?” waarop Coward hom toegesnou het: “Shine.”

Ditsem. So ’n bek moet stroop kry. Of miskien “net so!”

 

[Backtrack]

[Press Kit]

[top]

Illustration by Amoret Phillips / taxi1010.com